Dit is met groot hartseer dat ons die nuus deel van die afsterwe van een van GWK Besproeiing se staatmakers,
Piet van der Post (52). Piet laat sy vrou Brenda en hul vier kinders agter.
Piet is op Maandag 2 Oktober oorlede, na hy sy stryd teen breinkanker verloor het. Piet het diep spore in Douglas getrap en is sedert 1999 in GWK se diens. Sy loopbaan het as ʼn algemene werker by GWK Handel in Douglas begin. Hy was 16 jaar by Handel betrokke en het verskeie posisies beklee. In 2015 het hy byGWK Besproeiing in Douglas begin en moes hy die nuwe besigheid help dryf. Piet het ongetwyfeld bygedra tot die sukses van GWK Besproeiing.
Johan Greyling (GWK Handel Takbestuurder: Douglas) beskryf Piet as ʼn merkwaardige werker. “Ons het dikwels vir Piet by die hospitaal en sy huis besoek, en jy kon duidelik die liefde vir hom ervaar. Hy was ʼn staatmaker en altyd behulpsaam – GWK gaan hom beslis mis.”
Jingles Louw (oud-kollega) vertel dat Piet ʼn liefdevolle en behulpsame mens was. “Hy was altyd bereid om te help en het elke vrou ‘Hartjie’ genoem.”
Isaac Pretorius het die afgelope agt jaar saam met Piet gewerk. “Hy het altyd sy kollegas gemotiveer en hy het ʼn goeie sin vir humor gehad. Sy verhouding met die Here was ook vir hom belangrik.”
Piet was ook besig met sy pastorale studies en die bediening was sy langtermyn-plan. Ons gebede is met sy familie, vriende en kollegas in hierdie moeilike tyd. Ons eer jou nalatenskap Piet, dit was ʼn voorreg om jou te ken. Rus in vrede.
Johan Greyling
Takbestuurder: Douglas